Ek werk heeldag met publiek en lewer ‘n diens aan die publiek. Ek is ook ‘n kliënt wat my aankope doen en aan die ander kant van die prentjie is. Wanneer ek ‘n diens lewer, verwag ek dat my kliënte geduldig moet wees. Wanneer ek die kliënt is, is dit nie so maklik nie. Dit is egter moontlik as jy jouself daarop instel.
Dit is nou al 6 jaar wat ek ook geduld moet hê met kliënte wanneer ek verwag dat hulle geduldig moet wees. Daar is baie faktore wat ongeduld veroorsaak. Meeste van die kere het iets met die kliënt gebeur en kom jou uitttrap omdat dinge skeefloop. Ek hou my dan rustig en kry die kliënt rustig. Die rede waarom hy/sy opgewonde is, is nie my skuld nie, ook nie noodwendig die kliënt se skuld nie, so moenie ongeskik met my wees nie. Ek gaan my bes doen om jou te help en jou probleem uit te sorteer en jy gaan met ‘n geruste hart terug huistoe. Dan kom mense agter dat dit alles onnodig was.
Daar is lang rye in die stede. Oneindige verkeer en ‘n gesoek na parkering. Ek het eendag ‘n tjek van ‘n kliënt moes gaan kleinmaak in die stad en moes vir ‘n hele uur in die lyn wag voordat ek gehelp is. Ek moet toe nog wag dat hulle die kliënt telefonies in die hande kry om die tjek te bevestig vir uitbetaling wat nog ‘n verdere 10 minute geduur het. Ek moet hierdie kontant weer gebruik om voorraad aan te koop vir die bestelling wat die betrokke kliënt by my geplaas het. Tjeks is uit die mode en uiters gevaarlik. As gevolg hiervan, aanvaar ek nie gewoonlik ‘n tjek nie, maar dit is ‘n goeie kliënt en ek wil nie moeilik wees nie. Ek moes maar geduldig in die tou staan totdat ek gehelp is. Om ongeduldig te raak, te skel en vir almal in die tou te vertel hoe swak die diens is, help niks. Dit maak dinge nie vinniger of makliker of aangenamer nie. Inteendeel!!! Onthou net – haastig is nie gou nie.
Nou waarom sal die bedorwe afgetredene in die platteland sy “toys” gooi as hy/sy 10 minute in ‘n tou moet staan? As jy nie in ‘n tou wil staan nie, maak gebruik van tegnologie. As jy tegnologies gestremd is en nie WIL leer nie en jou ore uitleen aan VLV -en RSG praatjies oor hoe gevaarlik dit is, staan in die ry en wag jou beurt af. Waarom jy so haastig is weet nugter alleen. Dit is ‘n bietjie ontvlugtig van die ou vrou wat heeldag neul, van die ou oom wat sy bril soek en honger is. En dan begin jy sommer baklei omdat die persoon wat jou moet help, nie wit is nie. Die wit persoon weet mos beter. Nee oom/tannie. Almal word dieselfde opgelei, word oor dieselfde kam geskeer en is bekwaam om jou te help. Hou op om uitsonderings te maak. Jy maak jouself belaglik. En dan baklei jy nog omdat jy 10 minute in die tou moes staan. Het die persoon wat jou moet help bolle gerol, of was die persoon met iemand anders besig? As jy nie lank wil wag nie, moenie aan die begin of einde van die maand jou voete by die deur uitsit nie. Bly by die huis en brei of kook ‘n bredie. As jy ongeduldig wil wees, gaan op ‘n stil tyd om jou besigheid te doen. Moenie ongeduldig wees met die persoon wat jou regtig wil help nie, want mense wat nie verstaan hoe dinge werk nie, raak mos ongeskik. As jy nie die persoon vertrou wat jou moet help nie, bly ook by die huis. Baie ander mense in die publiek sien jou ongeduld en skaam hulle namens jou. Die beste is dat jy môre weer moet terugkom na die mense toe waarmee jy ongeskik was want jy het weer hulle hulp nodig. Die voorbeeld wat jy as “hoog heilige Afrikaner” stel, laat veel te wense oor en ander kulture dink minder as niks daarvan.
Die goue reël is dus – geduld kos jou niks. Vriendelikheid kos jou niks. Hoflikheid kos jou niks. Bedank die persoon wat jou met oorgawe gehelp het om jou kostrollie uit te pak, deur die til sit en dit ingepak het. Bedank die persoon vriendelik wat jou by die til gehelp het en moenie jou kuite styf maak as een van die winkel personeel jou trollie wil stoot nie – en ja, gee hom ‘n rand of 3. Hy hoef nie hoflik te wees nie. Gooi ‘n bietjie goeie maniere daarby en jy gaan dit ver bring in die lewe.