Categories
Uncategorised

Ongewenste “bucket list”

Van wat net ‘n dagprosedure moes wees om van die rooi karretjie wat my elke maand besoek, ontslae te raak, raak toe ‘n 5 weke siekverlof.

Nou kyk, as jy vir 5 weke met betaling by die huis kan bly, is dit nie te versmaai nie en as jy nog 5 kg in die proses kon verloor, is dit ‘n bonus, maar ai!! Daar is ‘n paar ongewenste dinge wat ek na afloop van hierdie ervaring van my ongewenste “bucket list” kan afmerk.

Toe die ginekoloog ‘n “oeps” oomblik beleef, word ek ingelig, nadat ek wakker word van die narkose, dat ek nie kan huistoe gaan nie, maar vir 3 dae in die hospitaal gemonitor moet word vir moontlike komplikasies wat mag ontstaan. Kom ons werk ‘n ou covid toetsie daarby saam, en ek kan dit ook afmerk. Jy kan nie in die hospitaal opgeneem word tensy jy vir covid getoets is nie. Dit is so erg soos wat almal sê!!! Dit voel soos ‘n yskoue breinaald wat tot in die brein ingesteek word. ‘n Baie onsmaaklike affêre.

Min het ek geweet dat ek ‘n “Grey’s anatomy” of “Chicago Med” oomblik sal hê deur in ‘n ambulans vervoer te word. Iets wat ek van my “bucket list” kan afmerk, want nie baie mense het al die geleentheid gehad nie.

Ek word ingestoot by die hospitaaldeur waar ek 22 jaar gelede as werknemer van die Mediclinic gewerk het by dieselfde toelatingstoonbank waar ek ure spandeer het. Wie het nou gedink dat ek eendag, op ‘n hospitaalbed deur ‘n paramediese span, juis hier ingestoot sal word. Ek word deur die hospitaal, op hierdie hospitaalbed vervoer, en ek ervaar eerstehands hoe die ligte teen die plafon by my verby skuiwe, nes op televisie. Ek probeer rigting in my kop hou van waarheen ek gaan. Ek het mos 11 maande hier gewerk. Maar in 22 jaar het dinge baie verander.

Ek lê soos ‘n “lady at leasure” in die hospitaalbed nadat daar lank en geduldig na ‘n geskikte aar vir die drip gesoek word. Ek het ‘n bedklokkie en kan dit net druk as ek hulp/diens benodig. Wow, daar word niks meer van my verwag as om te rus nie. Heerlike jellie, hoender aftreksel sop en helder vrugtesap. Drie keer per dag terwyl die ander pasiënte se gebraaide hoender en gestoomde groente se reuk in my neus opgaan en my maag laat draai.

Alles loop reg en ek word ontslaan. Die ontslaanproses het ‘n uur langer geneem as nodig aangesien die suster en die chirurg mekaar misverstaan het en ek probeer uitvind wat die probleem is. ‘n Ekstra uur in die hospitaal is verskriklik en behoort vermy te word.

Ek word opgelaai deur my buurvrou met my kar wat ek 2 jaar gelede gekoop het en ‘n lieflike stamp gekry het deur ‘n 84 jarige ou dame dieselfde dag wat ek die ginekoloog besoek het om die prosedure te bespreek. Moes seker toe al geweet het, my moeilikheid is geboek. 2020 se coronavirus en sy implikasies is nie uitdagend genoeg nie.

Ek gaan 2 dae later werk toe en sommer elke dag daarna. Alles verloop goed en daar is geen probleme. Ons vier my man se verjaarsdag op die Sondag en geniet ‘n heerlike uitstappie.

Maandag gaan ek werk met ‘n kramperigheid op my maag. Dit is 10 dae nadat ek ontslaan is. Ek wonder of ek moet gaan werk, maar besluit dat ek deur die dag behoort te kom. My asemhaling is vlak en ek loop nie lekker nie. Die kramperigheid op my maag raak erger deur die dag en ek gaan, nadat ek klaar gewerk het, gou by die apteek langs en kry medikasie vir winde. Ek sukkel om te eet en kan skaars dit wat ek inkry, binnehou. Dinge raak erger en om half 12 die aand, kan ek nie meer nie. Pak ‘n tassie en ons is oppad hospitaal toe. Die hobbels en ongelykhede in die pad, maak dit baie onaangenaam. Ek ry in ‘n rolstoel van die kar af, wat ek ook nou kan afmerk op my lysie. Ek het soveel pyn dat ek sukkel om asem te haal. By ongevalle word daar weer eens ‘n ou covid toetsie gedoen. Ag, hoe ek nie hierna uitgesien nie!! ‘n 2 de maal!!! Die ongemak word egter deur die krampte op my maag oorskadu. ‘n Voedingsbuis word hierna deur my neus, af in my keel tot in my maag ingesit. X-strale word geneem en toe ‘n CAT scan. Ek hoor ook maar net van hierdie dinge op televisie en kan nou uit ervaring, dit ook afmerk van my “bucket list”. “Been there, done that”.

My arme man sit 2 ure by toelatings totdat hulle weet dat ek opgeneem gaan word. Weer eens is dit ‘n uitdaging om van al die baie are, wat so vlak lê, ‘n geskikte aar te kry vir ‘n drip. Hier gaan ons weer. Ek het dit mos nou al afgemerk!! Ek word weer saal toe geneem en kon darem met behulp van die pyn medikasie, ‘n bietjie slaap. Ek word later die volgende oggend ingelig dat my dunderm, wat met die vorige “eenvoudige eendag prosedure” beskadig is, begin lek het en dat ek reggemaak gaan word vir ‘n noodoperasie. Jippee, noodoperasie. Nog iets wat ek kan afmerk van my gewenste lysie.

Ek word wakker na die narkose en besef dat ek ‘n sny het, wat so lank is soos ‘n liniaal se lengte, op my maag. Al die vorige letsels van my volwasse kinders se keisersnitte is netjies gemaak en ‘n nuwe, langer sny is in die plek daarvan. ‘n Bietjie goeie nuus by die slegte. Ek is nou weer ‘n vars, opgegradeerde ek. Ek kyk om my rond en besef dat ek in die covid positiewe kant van die Intensiewe sorg lê, aangesien hulle nog wag vir uitslag van my covid toetsie. Intussen kom die fisioterapeut en ons begin beweeg. Dronk en onvas op my voete voel alles soos ‘n droom. Ek sweef.

Die covid uitslae kom terug en ek word na die covid negatiewe deel van die Intensiewe sorgeenheid oorgeskuif. Hier word ek ontnugter deur die gekerm van ‘n ou omie waarvan albei sy bene geamputeer is. ‘n Omie wat oorkant my lê met swaar asemhaling wat na 2 dae klink soos ‘n klankversterker wat agter die kopkant van my bed is en in stereo asemhaal. Jy voel soos ‘n pasgebore geelsug baba wat onder skerp ligte lê!! Die verpleegpersoneel skarrel soos afkop hoenders rond van een bed na die ander. Hulp word oor en weer gevra en dit is ‘n oneindige lawaai. Pasiënte word in en uitgeskuif soos wat hulle toestand verander. Daar is ‘n voedingspyp in my neus, ‘n drip in my nek, ‘n “vitasl” meter aan my vinger en ‘n bloeddrukpomp aand my arm. Soveel pype en draadwerk het ek nog nooit ervaar nie. Die drip staander het nie meer plek vir ‘n enkele dingetjie om te hang nie. Ek het ‘n doodse dors en ek mag slegs ‘n stukkie ys inneem om dit te verlig. Nul per mond. Skielik voel ek baie siek. Ek is seker dat ek sieker is as wat ek dink, want ek is vasgekluister aan hierdie bed en kan by niks uitkom nie as gevolg van al die konneksies aan my liggaam. Die kateter help natuurlik dat ek nie agterkom dat ek ‘n toilet benodig nie. Daar is plakkers op my bors wat aan ‘n masjien gekoppel is. Jy voel so nutteloos en uitgelewer. Ek is in en uit slaap en weet nie hoe ek my dae gaan verby kry in hierdie nagmerrie nie. Ek kan slegs op my rug lê en my voete is permanent gevries. Later besef jy dat jy niks aanhet behalwe ‘n hospitaal jurkie nie. Dit is nie eers agter vas nie, want jy word gereeld gewas en ingesmeer sodat jou bloedsirkulasie gestimuleer word en jy nie bedsere kry nie Hier laatmiddag, dan voel dit soos gloede en my gesig en bolyf is so warm dat ek slegs ‘n blokkie ys hiervoor kan neem en ‘n koue lappie om my nek kan sit om beter te voel. Uiteindelik, verligting. In en uit slaap. Die bloeddruk van ‘n paar pasiënte word gelyktydig geneem op ‘n vasgestelde siklus deur ‘n gekontroleerde punt. Elke oggend word ‘n ander vinger geprik om toe te sien dat die buisvoeding se hoë suikerinhoud gemonitor kan word. Later deur die dag word daar bloed getrek om te sien of die infeksie verbeter. Doktersbesoeke elke dag en ek kan darem die vrae wat ontstaan vra en antwoorde kry. Die fisioterapeut kom en ons stap, meeste van die kere met ‘n staander vol sakkies wat ek saamsleep en ander kere kon ek darem ontkoppel word van die besigheid soos wat die dae van herstel aanskuif. Dokters kom in en gesels kliphard met die verpleegpersoneel en jy skrik wakker uit ‘n droom wat jy nie kan oorvertel nie. Jy weet net dat dit nie in jou verwysingsraamwerk is nie en dat niks sin maak nie. Binne oomblikke het jy vergeet wat dit was. ‘n Bloedverdunner word in jou bobeen ingeskiet wat voel soos ‘n kooltjie vuur. Na 6 dae word hierdie bobeen so seer dat dit voel of ek met ‘n helse hou in iets vasgeloop het en ‘n massiewe bloukol veroorsaak het. Ek word weer wakker en dit voel of iets op my lê, want die komberse is swaar. Gedink dis my kat wat op my lê, maar daar is niks.

Sodra ek ‘n wind kan laat, is my kanse om uitgeskuif te word na ‘n saal, beter. Indien my derms begin om te werk en ek ‘n bedpan suksesvol kan gebruik, dan is my kanse nog beter. Jy voel dat jou maag iets wil doen en dan moet jy vinnig iemand se aandag kry voordat jy jouself in jou bed bevuil. Jy hang soos ‘n uil op ‘n kluit op hierdie bedpan met jou agterend in dit wat ookal wat jou liggaam verlaat. Jy laat weet dat jy klaar is en wag vir hulp terwyl die bedpan prentjies op jou agterend druk. Dan word jy bevry van die bedpan, jou agterend word afgevee, roompies teen “boudjie brand” gesmeer en dan lê ons maar weer om die dag verby te kry.

Die voerbuis word verwyder en dinge voel darem meer gemaklik. Ek begin stelselmatig al meer gek raak en moet myself gereed sover kry om te onthou hoe lank ek al hier lê. Om te onthou watter dag dit is en wat die datum is. Ek besluit om teen my aanvanklike besluit in te gaan, en my man te vra om te kom besoek. Ek wil nie hê hy moet my sien soos ek lyk met die voedingsbuis ens. nie. Ek wil hom nie ontstel nie. Ek het net besef dat ek moet plan maak sodat ek nie totaal van my kop af gaan nie. Ek kon darem ook besoek kry van my ma en van daar af het dinge begin beter gaan. Ek kon die televisie aanskakel, maar dit was hoofsaaklik sport programme. Regtig? Wat van ‘n mooi “romcom”?

Uiteindelik, na 8 dae, word ek uitgeskuif saal toe in my eie privaat spasie. Die drip in my nek word ontkoppel en ‘n nuwe drip word opgesit in die pypie van die vorige soekproses. Die kateter word uitgehaal en ek voel sommer hoe die bed gebondenheid begin verlig. Ek het meer vryheid om te beweeg. Ek kan steeds net op my rug lê en dit raak vervelig. Ek kry weer heerlike jellie, hoender aftreksel sop en helder sap – drie keer per dag. Die volgende dag, nadat ek baie beter geslaap het, kry ek nuus dat ek darem nou op vol vloeistof dieet is en kan darem nou bietjie meer vaste kos kry. Die helder sop het darem nou meer substans en die jellie kry vla oor. Ek kry sulke lekker poedinkies wat help om die liggaam vinniger te laat herstel. Dit bevat blykbaar proteïne. Dit smaak soos karamel kondensmelk – my absolute gunsteling stresverlig item. Ek kan darem die badkamer gebruik en 8 dae se Intensiewe sorg afwas onder die stort met die hulp van ‘n “carer”. Dit is maar benede mens se selfrespek en menswaardigheid om sonder klere, hulp van ‘n vreemde persoon te ontvang, maar sjoe, as jy darem uit die stort kom, voel jy soos ‘n ander mens. Die ou hospitaal jurkie kan darem nou verruil word vir slaapklere en jy begin stadig maar seker weer soos ‘n mens te voel. Daar is ‘n toilet wat jy kan gebruik en die menswaardigheid, na ‘n bedpan, word darem stadig maar seker herstel.

Ek kry die goeie nuus dat alles goed lyk en dat ek kan huistoe gaan. 10 dae in die hospitaal, en die ervaring van alles, kan nou ook afgemerk word op my ongewenste lysie. Nou is dit net bedrus. Ek het so heerlik in my eie bed geslaap en die volgende oggend, nadat ek ontbyt in die bed gekry het, weer aan die slaap geraak en die saligheid ingeslaap. Nou kan ek op my sy lê, televisie kyk waaraan ek gewoond is, my huismense vra om my gemaklik te maak en nou kan die volle herstelproses begin. Na ‘n totaal van 5 weke, kan ek teruggaan werk toe en begin vergeet van my ongewenste “bucket list”.