Categories
Uncategorised

Op ‘n positiewe noot

Ons is almal in ‘n staat van inperking. Nie net ons nie, maar ook die hele wêreld. Daar is ‘n virus daar buite wat ons angsbevange maak en ons is bang dat ons dit gaan kry. Of jy nou bang is vir dood of nie, is blykbaar nie die faktor nie. Daar is ‘n vrees hiervoor en het groot impak op almal se lewens.

Sedert inperking begin het, het ekself in ‘n paniek gegaan, soveel so, dat ek verlof by die werk ingesit het uit vrees dat ek die virus sal versprei. Nie noodwendig ‘n vrees dat ek dit sal opdoen nie, maar dat ek dit sal versprei na mense wie se gesondheid ondermyn is deur een of ander siekte en maklik vatbaar sal wees daarvoor. Dit maak tog sin om verlof te neem aangesien my hele gesin by die huis is en nie mag werk nie. Ek spandeer tyd saam het hulle en word nog betaal ook daarvoor. Dit was tyd vir my jaarlikse verlof maar my beplanning moes net by die inperking aanpas.

Tydens my verlof met inperking, het ek stelselmatig gewoond geraak aan hierdie inperking idee. Daar is heelwat teorië wat rondgestuur word. ‘n Opinie is soos ‘n neus!! Almal het een. Hoe gegrond of ongegrond kan mens jou nie aan steur nie en of dit vals inligting is of die waarheid, is amper ontmoontlik om te bepaal.

Soos wat die dae aangestap het, kon ek agterkom dat ek rustiger begin raak het in my gemoed. Die stres van die feit dat ek essensiële diens is maar blootgestel is aan die virus omdat ek moet gaan werk, het begin verflou en ek het my verlof begin geniet. Ek en my man het heerlik elke dag onsself met Showmax vermaak. Ons het heerlik koffie gedrink, laat geslaap en laat gaan slaap, laat ontbyt geëet en vroeg aandete sodat ons slegs 2 maal per dag eet. Ons het egter nie gedink aan kos of peusel nie, want ons was so vasgevang in die reekse wat ons op televisie gekyk het, dat jy nie wil breek en opstaan om te gaan kosmaak of winkel toe te gaan en eetgoed te gaan koop nie. Dit is in elk geval vrees aanjaend om winkel toe te gaan. Ons het dus niks ekstra of buite ons normale tipe kossoorte geëet nie.

Ek het verjaar in April. Niemand van my gesin kon werk nie en aangesien ek nog verlof gehad het, het ons en ons kinders heerlik gekuier om my verjaarsdag te vier. Ons het koek gebak en appeltertjies gemaak. Ons het ons eie koffie partytjie gehou en heerlik gesmul. Ons het ‘n paar bord speletjies gespeel en selfs kaarte. Ons het heerlik gelag, soms verspot geraak en dit was amper soos die dae toe die kinders nog op skool was en ons in een huis gebly het.

Ek en my man het meer tyd saam spandeer. Ons het nog altyd gedurende ons huwelik seker gemaak dat ons genoeg tyd saam spandeer. Ons woon op die platteland en het nie die verkeer van die stad of die afstande om te ry nie. Ons is dus in ‘n kwessie van 5 minute van die werk af by die huis. Met die inperking, was ons drie weke saam waarvan 2 weke met beide ons kinders was. Hierdie ekstra tyd met mekaar en met ons gesin, was ontsettend kosbaar. Ons het weer in voeling met mekaar gekom en kon saam die beste van die saak maak.

Ek het begin om myself te weerhou van negatiwiteit en slegs op die positiewe begin fokus. Ek het al verlede jaar die begeerte om ure voor facebook te spandeer, verloor en het gekyk hoe lank ek sonder Facebook kan wees. Die negatiwiteit en vals inligting was verseker nie opbouend nie en daarvan het whatsapp getuig. Wat is die onderliggende doel met hierdie inperking en wat gaan ek hieraan en hiermee doen. Ek het nou baie tyd en kan nie meer sê dat ek nie by die hope naaldwerk kan uitkom nie. Knope aanwerk, stukkende knië toewerk of afknip en ‘n soom insit, stukkende broeksakke heelmaak, verstelwerk doen en al die ander kleinigheidjies waarvoor daar nooit tyd is nie. Ek was so op ‘n “roll” dat ek dit begin geniet het. Dit was so heerlik om terug te kyk op die stapels herstelde klere wat netjies opgevou lê en wag om uiteindelik weer in die kas te kom en die spasie wat dit opgeneem het, toe dit stukkend was, te gebruik vir iets anders.

Hierna het die stof , wat al weke opgegaar het, aan die beurt gekom. Dit het my tyd gegee om sommer al die ou klein goetertjies wat rondstaan wat einlik net stof opgaar, weg te maak. Dit is of op ‘n plek gebêre, waar dit al lankal moes wees, of eenvoudig weggegee of uiteindelik as onbruikbaar verklaar en in die asblik gegooi.

Ek het my handsak begin ontleed. Daar is handeroom, lipstiffie, ‘n massiewe beursie met ‘n paar munte in en kaarte waarop daar betalings gemaak moet word, notaboekies en penne, parfuum, donkerbril, naaldwerkstelletjie, naelstelletjie, en noem dit, dit was daarin, net vir ingeval. Soos ek nou die dag vir iemand sê, ek bly skaars 3 minute van die werk af, maar my handsak is gepak vir enige gebeurlikheid asof ek in ‘n ander dorp werk en iets dringend sal nodig kry wat by die huis lê en onbereikbaar is. Ek het meeste van hierdie goed uitgegooi en ek moet sê dat die lipstiffie, verpligte masker, selfoon met ID kaart en bankkaart daarin, my toegangsknoppie tot die deure by die werk en my leesbril wat oorgebly het in my “Covid handsak”, heelwat ligter oor my skouer hang as voorheen. Ek het nog sedertdien niks wat ek uitgegooi het, benodig nie.

Ek werk flexie ure en wanneer ek moet gaan werk, is dit eers 10 soggens. Ek het dus heerlik tyd, nadat my man koffie in die bed gebring het, om uit te strek en lui te wees terwyl ek wag vir die koffie om af te koel tot drinkbaar. Voorheen het my man ook nie hiervoor tyd gehad nie en sedert die inperking, kry ek koffie in die bed. Sodra die koffie dan die regte temperatuur het om lekker te kan drink, sit ek regop in die bed en luister na ‘n Christelike boodskap op Youtube. Dit is van die positiewe inligting van skakels wat ek per whatsapp ontvang het. Ons kan mos nie nou kerk toe gaan nie. So word my geestelike lewe ook verander en meer intens. Nadat my verlof verby was, was daar steeds tyd, soos altyd van te vore, om tyd hieraan te spandeer. Ek het net nooit my tyd hiermee spandeer nie. Ek het soveel wyser geword hieruit en weet dat ek dat ek, op hierdie positiewe gesindheid, die krisisse en moeilike tye in my lewe, beter kan hanteer en my sterker maak as ek dink ek is swak.

Ek is terug by die werk en ek het ‘n ander uitkyk. Ek is dankbaar dat ek hierdie tyd inkomste gehad het. Ek kon vir my gesin voorsien al het dit beter beplanning geverg. Een oggend het my buurvrou gevra of ek dan oppad is werk toe. Ek het gesug en bevestig dat ek oppad was. Skielik het hierdie woorde in my ore weergalm en ek het myself gekorrigeer en gesê, “Ja tannie, dit is ‘n voorreg om steeds inkomste te hê terwyl ander mense nie mag werk nie, om na ‘n werk toe te kan gaan en te besef dat die impak van die inperking, my nie werklik, werksgewys, beïnvloed het nie”. Ek het vriende en familie wie se werksposisies in die weegskaal is en die toekoms lyk donker. Ek gaan my uitkyk oor my werksposie verander vir die feit dat ek gesondheid het om te kan werk, dat ek ‘n werk het en ek voordele by my werk het wat kosbaar is en dat ek dit moet omarm en my deel moet doen met oorgawe en positiwiteit.

As ek terugkyk op hierdie vreemde tyd in ons lewens, waarvoor niemand voorbereid was, of uit ondervinding raad kan gee nie, is dit ‘n wonderlike tyd van vernuwing en refleksie. Ons natuur het soveel herstel getoon en ons natuurlike habitat het soveel mooier ontwikkel en dit het mens laat besef dat die mens ‘n groot sondebok is en die aarde vernietig. Daar is mense wat voorheen gesê het dat ons drasties iets moet doen om die aarde te red. Meer drasties as inperking en die onmiddellike afdwinging en effek daarvan, is daar seker nie. Ek vertrou dat hierdie impak blywend sal wees.

Die inperking het ons meer kreatief gemaak en ons laat dink. Ons kyk dinge uit ‘n ander perspektief. Ons sien dinge anders. Ons het kans om ander planne te maak om die beperkinge van die inperking in ons guns te laat werk. Wat ‘n vreemde, wonderlike tyd is hierdie inperking nie. Dit is ‘n tydperk in ons lewens wat ons nooit sal vergeet nie. Dit is egter ons keuse of ons die negatiewe of die positiewe daaruit gaan neem en vorentoe daarop gaan voortbou.