Ek het al baie gewonder wanneer ek by ‘n selfoon wat gelaai word in ‘n kantoor, verbyloop, of dit goeie praktyk is en of dit grens aan diefstal. Wanneer jy iets verbruik vir jou eie gewin , sonder toestemming, en nie noodwendig tot jou direkte pligte op kantoor bydrae nie en waarvoor jou werkgewer daarvoor betaal, is die lyn baie dun tussen steel of voorreg. Indien jou selfoon ‘n noodsaaklike toestel is om jou werk te kan doen, bv ‘n sakeman, eiendomsagent en ander, kan dit gesien word as deel van die vergoedingspakket om jou foon op kantoor te laai.
Wanneer jy egter ‘n werknemer is en nie jou selfoon benodig om jou werk te kan doen nie, hoekom is jou selfoon nie oornag by jou eie huis gelaai nie? Ons almal betaal vir krag vir eie verbruik. Gaan kyk ook na die verskil tussen gebruik en verbruik. Wanneer iets opgebruik kan word, word dit verbruik bv. krag, seep, petrol ens. ens. Dit moet vervang word en iemand betaal daarvoor. Wanneer jy iets gebruik is dit iets wat nie opgebruik kan word nie, bv. ‘n rekenaar, stoel, selfoon ens. ens. Dit is ‘n eenmalige uitgawe vir baie jare. Krag is iets wat verbruik word m.a.w dit moet vervang word. ‘n Pen word op die lange duur ook verbruik, maar as jy dit gebruik om jou werk te doen is dit ‘n hulpmiddel waarvoor jou werkgewer betaal. Wanneer jy die pen huistoe neem vir persoonlike gebruik, is dit diefstal.
Is mense net besig om sulke dinge te misken, of steel hulle wederegtelik sonder ‘n gewete? ‘n Vriendin van my het jare gelede al vir my gesê, as jy kan lieg, kan jy steel ook. Is dit nie anders om ook waar nie? Om jou werkgewer se krag vir eie gewin te gebruik of om privaat oproepe vanaf jou kantoor te maak, is niks anders as diefstal nie. Tensy jy ‘n ooreenkoms het met jou werkgewer om elke maand vir hierdie dienste te betaal, is dit iets anders. Persoonlike oproepe tydens werkstyd is ook diefstal. Jy verdien tog ‘n salaris vir dienste en pligte wat jy uitvoer en om met jou kêrel vir ure oor die foon te praat wanneer jy moet werk, is ook diefstal. Steel van jou werksure vir persoonlike gebruik.
Dit bring my by “smoke breaks”. Indien jy teetyd en/of etenstyd by die werk het, kan jy doen wat jy wil. Jy word nie vir etenstyd betaal nie. Jy kan dus rook, met jou vriendin gesels oor haar liefdeslewe of wat ook al. As jy in werksure buite gaan rook, steel jy jou werkgewer se tyd. Diegene wat nie rook nie, moet dus die fort hou terwyl jy jou longe met kanker gaan vul. Nie-rokers het nie ‘n “verskoning” om nie tydens werksure op kantoor te wees nie. Nie-rokers werk dus langer ure as rokers. Ons hoef nie eers oor die gesondheidsaspek hiervan te praat nie.
My vraag is dus : Is jy iemand wat steel sonder dat jy dit besef? Maak jy misbruik van jou werkgewer se hulpbronne vir persoonlike gebruik? Aanvaar jy dit as vanselfsprekend om jou selfoon by die werk te laai? Steel is steel. Of dit nou ‘n kar is of ‘n bietjie krag. Hoe sal jy dit hanteer wanneer jy in die stoel sit van die werknemer? Stof tot nadenke.